Ek is ‘n ‘TEACHER’

Hierdie briefChalkboard with words is spesiaal vir alle onderwysers en opvoeders regoor die wêreld wat motivering verloor het en soms nie waardeer word nie. Ek hoop dat dit jou sal bemoedig om met die groot en belangrike werk wat jy doen, voort te gaan!

“MÔRE KLAS!”

As dít die manier is waarop jy mense by jou werksplek groet, is dié spesiaal vir jou geskryf. Volgende week begin die skole weer. Hoekom gaan jy terug? “Want dis my werk!” Is dit jou antwoord? Jy is die juffrou of meneer wat ander mense se stoute kinders of tieners deur nog ‘n jaar moet help, met baie moeite en min waardering. So ja, dis jou werk. Jy’t dit mos gekies.

Ek glo dat baie dinge in ons lewens beter kan word as ons net sou stilstaan vir ‘n oomblik en onsself ‘n paar vrae vra. So om terug te kom na my eerste vraag: Hoekom gaan jy terug? Of eerder, hoekom het jy onderwys gekies? Wat het jou gemotiveer om ‘n onderwyser te word? Kom ons wees eerlik, geen tiener maak klaar met hoërskool en dink ‘ek kan nie wag om terug te kom nie’! So wat is dit wat jou lewe in hierdie rigting gestuur het? Ons almal weet dit was nie oor geld nie… Miskien vier vakansies? Of was dit ‘n liefde vir kinders, vir mense…?

Jy sien, motivering speel ‘n baie groot rol in ons lewens. Hoekom ons sekere dinge doen sal uiteindelik bepaal hóé ons dit doen. As jou motivering baie laag is, sal jy tog nie jou beste insit in ‘n les wat jy al twintig keer aangebied het nie. En as jou motivering baie hoog is, sal jy daardie selfde les vir ‘n een-en-twintigste keer aanbied asof dit die eerste keer is wat jy dit vir enige iemand leer. Dis hoekom motivering verskriklik belangrik is.

Ek hoor jou – en al die ander onnies (kan ek julle maar so noem?) – wat met teleurstelling sug en sê dat motivering saam met dissipline by die deur uit is. Daarna is dit doodgedruk deur ander onderwysers wat kompeteer vir posisie en leierskap wat geen simpatie en belangstelling toon nie.

Maar hierdie realiteite was nie daar toe jy jou lewe gekies het nie. En niks van hierdie probleme behoort invloed te hê op jou motivering nie.

Ek wil jou uitdaag om terug te gaan na die tyd toe jy opgewonde was om skool te hou. Die motivering, my liewe juffrou en meneer, was binne-in jou – nie buite nie. Jy was opgewonde. Jy het liefgehad. Jy het hoop gehad. Ek wil jou uitdaag om hierdie jaar anders te begin as vorige jare. Begin met ‘n hart vol verwagting en opgewondenheid. Miskien sal die volgende paar punte jou moed gee vir hierdie nuwe skooljaar.

  • Jy het net sowat 200 skooldae om ‘n groep mense se lewens te verryk. Ja, daardie klomp wesens wat nie kan spel nie en heeldag na elektroniese toestelle in hulle hande staar, is die volgende generasie – en JY het 200 dae van hulle lewe in jou hande! Hou op om jou vak aan te bied. Leer mense. Dink aan jou gunsteling onderwyser toe jy op skool was. Wens jy nie daardie onnie kon al jou vakke aanbied nie? En wat het daardie onderwyser spesiaal gemaak? Jy kan vir die kinders en tieners in jou klas, ‘n “gunsteling onnie” word. Aan die einde van elke dag, vra jouself of jou leerders beter af is omdat hulle vandag met jou tyd spandeer het. Die antwoord sal jou sê of jy lewens verander het of net tyd laat verby gaan het.
  • Moenie vergeet dat daardie leerder wat voor jou sit dalk die enigste liefde van ‘n volwassene by jou as onnie gaan kry nie. Jou woorde en jou dade gaan ‘n lewenslange uitwerking op daardie kind se lewe hê. Ja, hulle kan jou mal maak en jou moed het dalk in jou skoene gesak toe jy uitvind ‘n sekere mannetjie is hierdie jaar in jou klas! Maar dis juis daardie kind wat jou nodig het. Doen bietjie moeite met onmoontlike kinders. Gee ekstra aandag en liefde. Die grootste verandering kom net as gevolg van groot liefde. Jou woede en kwaai woorde gaan geen verskil maak nie. Dit gaan waarskynlik net die seer wat alreeds diep gewortel is, verskerp. Jy kan die kwaai onnie wees vir wie almal bang is of jy kan die onnie wees wat lewens verander.Schoolboy Struggling with Math Problems
  • Elke leerder wat voor jou sit, het potensiaal. Hulle besef dit dalk nie eens self nie. Maak ‘n keuse om elkeen se potensiaal raak te sien, maak nie saak hoe stil of hoe stout die kind is nie. Jou geloof in hulle is dalk al wat hulle nodig het om suksesvolle volwassenes te word. Die beste en mooiste geskenk wat jy vir jou leerders kan gee is om in hulle te glo wanneer hulle nie eens in hulself glo nie. Moenie net in die 80% en 90% leerders glo nie. Kyk vir daardie outjie wat 50% kry en sê vir hom julle gaan saam werk om dit 55% te maak!
  • JY HET POTENSIAAL! Potensiaal is ‘n saad wat nooit doodgaan nie en dis binne-in ons almal geplant. Wat is jou potensiaal? As jy dieselfde mens is as wat jy laas jaar was, het jy nie gegroei nie. Verandering is nodig! Jy moet groei. Jy moet jou potensiaal najaag! Jy moet ‘n beter mens en onderwyser word! Jou potensiaal eindig die dag wanneer jy jou laaste asem uitblaas. Moenie dat dit vroeër eindig nie. Gee jou alles – vir jou man of vrou; vir jou eie kinders; vir jou leerders; vir jou kollegas; vir jou hoof; vir jouself. Moet niks terughou nie. Leef voluit!
  • En dan laastens, hou passie lewendig in jou hart. Ek ontmoet onderwysers op ‘n daaglikse basis wie se passie-vlam lankal geblus is. Ek besef dat daar baie redes is, maar passie is ‘n hartsaak. Wanneer jy passie het vir wat jy doen, het jy nie motivering nodig nie – jou passie motiveer jou. Steek weer daardie vuurtjie aan die brand en raak opgewonde oor die invloed wat jy op mense se lewens kan hê! Jy is SO NODIG in ons samelewing! Ons het jou nodig! Die wêreld het jou nodig!

Ek wil graag eindig met ‘n ietsie oor myself. Ek het jare gelede ‘n woord gekies wat ek dink my as mens 100% beskryf. Sonder om vir iemand daarvan te vertel het ek toe vir my man, my ma en vir ‘n vriendin ook gevra om vir my ‘n woord te kies. Ek het nie woorde om vir julle te sê hoe opgewonde ek was toe hulle almal dieselfde woord as ek gekies het nie. My woord is “teacher”. Ek gee nie skool nie, maar dis WIE ek is. Ek IS ‘n “TEACHER”. Daar is nie ‘n dag in my lewe wat ek nie vir iemand iets wil leer of self iets wil leer nie. Dis asof dit my hartklop is. En dit is die rede vir hierdie brief aan jou. Ek het ‘n passie vir onderwysers en ek wil jou graag help om jou passie lewendig te hou.

Teen die muur in my studeerkamer regoor my lessenaar staan geskryf:

“I WAS BORN TO SERVE SPECIFIC PEOPLE! I HAVE GOT TO FIND THEM!”

Ek wil jou uitdaag om elkeen wat jou pad langs kom te sien as iemand vir wie jy gebore is. Jy is veronderstel om in hulle lewens te wees. Maak dit die beste tyd van hulle lewens en dit sál jou beste tyd wees.

Onnie-groete!

Debbie De Jager

debbiedejager@johnmaxwellgroup.com

As hierdie brief jou gemotiveer het, moet dit nie vir jouself hou nie. Stuur dit vir ander en deel dit op jou sosiale netwerke met die volgende detail: #ITouchTheFutureITeach en https://debbiedejager.com/the-extraordinary-teacher/ek-is-n-teacher/

(Indien jy meer wil weet i.v.m. my program vir onderwysers, “The Extraordinary Teacher” of oor enige van my ander seminare vir skole, besighede en tieners, is jy welkom om my te kontak.)

6 thoughts on “Ek is ‘n ‘TEACHER’”

Leave a comment

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.