Vir Elke Onnie Wat Sukkel Met Ongehoorsame En Soms Onbeheerbare Kinders.
Ek praat gereeld met tieners oor Selfbeeld, Boelie, Persoonlike Karakter, ens. By een hoërskool waar daar so 400 kids (Gr 8 & Gr 9) in die saal na my geluister het, was daar een seun (Gr 9) wat baie graag als wou oorvat. Hy’t uitgeskree en onnodige kommentaar gemaak – baie arrogant en ongeskik – en tog het die kinders vir hom op ‘n slag hande geklap…
Toe sien ek 2 dinge in hom raak te midde van al daardie bravade en kinders rondom hom:
- ‘n Swak selfbeeld wat smag na erkenning
- ‘n Leier wat soveel beter kan doen
Toe ek klaar is het ek gevra dat hy my asseblief moet kom sien voor hy klas toe gaan. Hy en al sy maats het sekerlik gedink ek gaan hom goed uitsorteer, maar ek het ‘n ander bedoeling gehad…
Ek het vir hom gekyk en my eerste vraag aan hom was: “Het enige iemand al ooit vir jou gesê watse amazing leierskapseienskappe jy het?” Hy was totaal verstom en het gesukkel om nie verslae te lyk nie. Ek verduidelik toe vir hom dat LEIERSKAP is INVLOED en hy kon ‘n hele klomp kinders in die saal kry om vir hom hande te klap! Toe sê ek vir hom dat hy reeds invloed het, maar hy gaan moet besluit watse invloed hy op mense wil hê. Hy kan of ‘n goeie of ‘n slegte invloed wees. As hy kies om ‘n slegte invloed te wees, sal hy nie altyd vriende hê nie. Maar as hy ‘n goeie invloed is, sal ek waarskynlik eendag in die koerante van sy ontdekkings lees en dan staan hy ‘n groot kans om sy skool se hoofseun te word.
Daar voor my het daardie seun begin huil, my ‘n “back-breaking” druk gegee en gesê:
“Tannie, niemand het nog ooit so met my gepraat nie!
Baie baie dankie.”
Ek huil nou nog as ek aan daardie oomblik dink en besef net weer opnuut dat die verantwoordelikheid van “teaching” nie net oor vakke gaan nie, maar oor MENSE – oor ons land se volgende generasie wat in baie gevalle stukkende jongmense is!
Elke stoute kind het jou nodig. Kry hulle alleen en vertel hulle van die mooi in hulle. Hulle verwag klaar dat almal net die lelik gaan raaksien – so skree en raas maak geen verskil nie. Soek na iets greats in hulle en verander lewens!
Onnie-groete!
Debbie
debbiedejager@johnmaxwellgroup.com
#ITouchTheFutureITeach